Unie van Suid-Afrika

Union of South Africa
Unie van Suid-Afrika
Unie van Zuid-Afrika
Flag of the Cape Colony 1876-1910.svg
Flag of the Natal Colony 1875-1910.svg
Flag of Orange River Colony.svg
Flag of the Transvaal Colony 1904–1910.svg
1910–1961 Flag of South Africa (1928-1994).svg
Vlag Wapenskild
Vlag Wapen
Leuse: Ex Unitate Vires
Volkslied: Die Stem van Suid-Afrika
Ligging of Union of South AfricaUnie van Suid-AfrikaUnie van Zuid-Afrika
Ligging van die Unie van Suid-Afrika. Suidwes-Afrika (die huidige Namibië) was 'n omstrede gebied en deur Suid-Afrika as vyfde provinsie geëis.
Hoofstad Kaapstad (wetgewend)
Pretoria (administratief)
Bloemfontein (geregtelik)
Pietermaritzburg (argief)
33°55′S 18°27′O / -33.917; 18.450
Taal/Tale Nederlands (destyds Hollands genoem), Engels, Afrikaans (vanaf 1925)
Godsdiens Oorwegend Christelike kerke, ook Islam, Hindoeïsme, Judaïsme, tradisionele gelowe
Regering Grondwetlike monargie
Monarg
 - 1910–1936 George V
 - 1936–1937 Edward VIII
 - 1937–1952 George VI
 - 1952–1961 Elizabeth II
Goewerneur-Generaal van Suid-Afrika
 - 1910–1914 Herbert John Gladstone
 - 1914–1920 Sydney Charles Buxton
 - 1920–1924 Prins Arthur van Connaught
 - 1924–1930 Alexander Cambridge
 - 1931–1937 Graaf van Clarendon
 - 1937–1943 Patrick Duncan
 - 1943–1946 Nicolaas de Wet
 - 1946–1951 Gideon Brand van Zyl
 - 1951–1959 E.G. Jansen
 - 1959–1961 Charles Robberts Swart
Wetgewer Unie-Volksraad
Geskiedenis
 -  Suid-Afrika-wet 31 Mei 1910
 -  Statuut van Westminster 11 Desember 1931
 - Stigting van die Republiek van Suid-Afrika 31 Mei 1961
Oppervlakte
 - 1961 2 045 320 km2
789 702 sq mi
Bevolking
 - 1961 skatting 18 216 000 
     Digtheid 8,9 /km² 
23,1 /sq mi
Geldeenheid Pond

Die Unie van Suid-Afrika ( Engels: Union of South Africa, Nederlands: Unie van Zuid-Afrika) het op 31 Mei 1910 in Suider-Afrika tot stand gekom toe die vier selfregerende Britse kolonies Kaap de Goede Hoop, Natal, Transvaal en Oranjerivierkolonie verenig is. Die naam Unie het tot 31 Mei 1961 voortbestaan, toe die land 'n republiek geword het en met 'n nuwe grondwet tot die Republiek van Suid-Afrika hernoem is.

Aanvanklik was die Unie 'n dominium binne die Britse Ryk. Dit beteken dat die Unie selfregerend met volle verantwoordelike bestuur was. Kortweg beteken verantwoordelike bestuur dat die regering die vertroue van wetgewende gesag van die land moes geniet. Mettertyd is die Unie se status binne die Ryk verhoog en eindelik het Suid-Afrika 'n vrygewes binne die Britse Statebond geword.

Die voormalige kolonies het provinsies geword en is Kaap de Goede Hoop, Natal, Transvaal en Oranje-Vrystaat genoem.

Ontstaan

Gedagte

Die gedagte om kolonies van Brittanje te verenig was nie ’n nuwe een nie. In 1867 het die Verenigde Koninkryk se parlement die British North America Act goedgekeur. Ingevolge hierdie wet is die kolonies Kanada, Nieu-Brunswyk en Nova Scotia saamgevoeg om die federale dominium Kanada te stig. In ’n federasie word die owerheidsgesag tussen die onderskeie state en ’n sentrale owerheid verdeel. Tipies word verdediging en buitelandse sake deur die sentrale gesag beheer, terwyl alle ander gesag aan die onderskeie state (oftewel bondstate) toegeken word. Australië het in 1901 gefedereer. [1]

In Suid-Afrika het sir George Grey reeds in die 1850's aan vereniging gedink, maar die "colonial office" was daarteen gekant. Gedurende die 1870's het laasgenoemde aan konfederasie in Suider-Afrika gedink, maar die ingesetenes was daarteen gekant. Na die tweede Anglo-Boereoorlog was die hele Suider-Afrika onder een vlag en sodoende is een van die struikelblokke uit die weg geruim. Toe Transvaal en die Oranjerivierkolonie ook selfregerend word, is nog ’n stap vorentoe geneem. Die Witwatersrand het weereens die gebied se ekonomiese kernpunt geword en die ou geskilpunte oor vervoertariewe en doeane-belasting het kop uitgesteek. [2] ’n Konferensie is byeen geroep om laasgenoemde probleme aan te spreek. Hulle het toe in Mei 1908 besluit om in Oktober 1908 in Durban ’n Nasionale Konvensie byeen te roep om die vereniging van die vier selfregerende kolonies te bespreek. Daar sou dertig deelnemers wees: 12 van die Kaap, 8 van Transvaal en 5 elk van Natal en Vrystaat. [3]

Nasionale konvensie

Aanvanklik was Natal ten gunste van ʼn federasie, terwyl die res van die kolonies ʼn unitêre staat verkies het. ʼn Kompromie is aangegaan ingevolge waarvan ʼn unitêre staat geskep sou word, maar met provinsies wat meer uitgebreide magte sou hê. Die geskil oor ʼn hoofstad is opgelos deur Kaapstad die setel van die wetgewende gesag te maak en Pretoria dié van die uitvoerende gesag. Die appèlhof sou in Bloemfontein wees. Die Kapenaars was nie tevrede met ʼn gewone wetsbepaling dat elke provinsie sy eie stemreg kon bepaal nie. Hul aandrang dat hul stemreg verskans word, is nagekom. [4]

Die taalkwessie was laaste netel wat uit die vuur gekrap moes word. Generaal Hertzog was ʼn groot voorstander van die Hollandse taal. Sy eie politieke party, Orangia Unie, het reeds in 1908 besluit "dat de goeie samenleving en samenwerking der Hollandsch en Engelsch sprekende bevolking dezer Kolonie gebiedend vergt dat de rechten van de Engelsch, zoowel als van de Hollandsch taal, gelykelijk erkend en ge-eerbiegd word ..." [5] Die gevolg was dat die bepaling oor tweetaligheid ook verskans sou word.

Die konvensie het weer in Kaapstad en Bloemfontein vergadering en in Mei 1909 ʼn wetsontwerp goedgekeur. ʼn Referendum in Natal en die drie parlemente in die ander kolonies het dit ook onderskryf. Gewapen met die wetsontwerp het ʼn afvaardiging na Engeland vertrek. [6]

Wetgewing

Die "House of Commons" en die "House of Lords" het die wetsontwerp onveranderd goedgekeur en die koning het dit op 20 September 1909 onderteken. [7] Op 2 Desember 1909 het koning Edward VII ʼn proklamasie uitgereik dat die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 tot stand sou kom. Mens moet in gedagte hou dat die Unieparlement ondergeskik sou wees aan die Britse parlement, grotendeels weens die bepalings van die "Colonial Laws Validity Act" van 1865. [8]

Other Languages
azərbaycanca: Cənubi Afrika Birliyi
Bahasa Indonesia: Uni Afrika Selatan
srpskohrvatski / српскохрватски: Južnoafrička Unija
Simple English: Union of South Africa
slovenčina: Juhoafrická únia
中文: 南非聯邦