Middeleeuse kookkuns

Landarbeiders besig om siligo, 'n soort koring, te dors. Tacuinum Sanitatis, 15de eeu.

Middeleeuse kookkuns verwys na die voedsel, kookmetodes en eetgewoontes van verskeie Europese kulture tydens die Middeleeue, 'n periode van ongeveer die 5de eeu tot die 16de eeu, wat sterk verskil van die verfynde kookkuns van die Griekse en Romeinse oudheid. Die veranderinge ten opsigte van die dieet en maniere van kos voorberei het regoor Europa in die spanningsveld tussen hongersnode, religieuse voorskrifte en adellike verspilsug plaasgevind.

Daar is min bekend oor die ontwikkeling van die vroeg-Middeleeuse kookkuns. Deskundiges soos Günter Wiegelmann in sy publikasie Alltags- und Festspeisen neem aan dat die eetgewoontes van die gewone bevolking tussen 1000 en die 17de eeu nouliks verander het, veral met die oog op die stadige ontwikkeling van voedselproduksie en die tegnologie wat hierby ingespan is. Die landboukundige drieslagstelsel met sy wisseling van somer- en wintergraan en weidevelde, wat in die 8ste eeu ingevoer is, het eeue lank dieselfde gebly.

Brood was die algemene stapelvoedsel, gevolg deur ander graankosse soos pap en pasta. Vleis is hoër geag en duurder as graan of groente. Algemene middels wat by kos gevoeg is om die smaak te verbeter, was wyn en asyn en verjus, die sap van groen (onryp) vrugte. Saam met die wye gebruik van suiker en heuning (deur diegene wat dit kon bekostig) het dit aan baie disse 'n soet-suur smaak gegee. Die gewildste soort vleis was varkvleis en hoendervleis, terwyl beesvleis meer grondbelegging benodig het en dus minder algemeen verkrygbaar was. Europese kabeljou en haring was gewilde vissoorte onder die noordelike bevolkings, maar 'n wye verskeidenheid ander sout- en varswatervisse was ook verkrygbaar.

Amandels, beide die soet en bitter soorte, was heel geëet as 'n garneersel, of fyngemaak en gebruik om soppe, bredies en souse te help verdik. Amandelmelk was ook uiters gewild en was 'n algemene plaasvervanger vir dieremelk tydens vastye.

Stadige vervoer en ondoeltreffende voedselbewaringstegnieke het die handel van verskeie voedselsoorte oor lang afstande beperk. Dit was grotendeels slegs die welaf en veral die adel wat ingevoerde bestanddele soos speserye kon bekostig en dus was hul kookkuns meer vatbaar vir buitelandse invloed as dié van die armer mense. Soos elke vlak van die samelewing dié bo sy eie gena-aap het, het vernuwings as gevolg van internasionale handel en buitelandse oorloë naderhand versprei tot dit die bo-middelklas van middeleeuse dorpe bereik het.

In 'n tyd toe hongersnood algemeen was en die sosiale hierargieë soms brutaal afgedwing is, was kos 'n belangrike merker van sosiale status op 'n manier wat geen gelyke het in die meeste geïndustrialiseerde nasies van vandag nie. Behalwe die ekonomiese onbeskikbaarheid van luukshede soos speserye, was daar voorskrifte wat die nuttiging van sekere kosse binne-in sekere sosiale klasse verbied het en gebruikswette wat die opvallende gebruik onder die welaf wat nie adellik was nie, beperk het. Sosiale norme het ook voorgeskryf dat die kos van die werkersklas minder verfyn was, aangesien daar geglo was dat daar 'n goddelike of natuurlike ooreenkoms tussen mens se werk en mens se kos was, dus het handarbeiders growwer, goedkoper kos benodig. Destydse medisyne het op dieselfde wyse duur tonikums, opiumkonkoksies en eksotiese speserye vir die kwale van die rykes aanbeveel, terwyl die laer stand met knoffel tevrede moes wees.

Other Languages